Ons sal 2008 altyd onthou as die Jaar van die Groot Skrik en die Jaar van die Groot Vreugde. Selfs die spesifieke datums is in ons geheues ingegraveer: die Groot Skrik het gekom in die nag van 16 April toe ons seunskoshuis afgebrand het. Ons was dadelik oorstelp van dankbaarheid dat ons Hemelse Vader as ons kinders ongedeerd daar laat uitstap het, maar die Groot Vreugde het presies 8½ maande later gevolg: ons Matriekuitslae!
Ons gee graag hiermee erkenning aan ons Hemelse Vader, aan die matrieks van 2008 – nie net vir ’n 100% slaagsyfer nie, maar ook vir 260 onderskeidings en ’n wonderlike positiewe gesindheid – aan ouers en ons onderwysers. Ons sien ook met geesdrif uit na wat 2009 gaan oplewer en wil graag in hierdie jaar leef in dankbaarheid vir wat ons in 2008 ontvang het en ook ontvang het in die bykans 90 jaar van die skool se bestaan. Ek glo dat ons skool ongelooflik bevoorreg is met ’n uitstaande en baie stabiele personeelkorps wat oor die jare nie net akademies puik is nie, maar so opreg omgee vir en gee aan die skool en spesifiek aan ons kinders op akademiese, sport-, kultuur- én geestelike en emosionele vlak dat dit nie anders kan as sukses oplewer nie.
Ons bid dat 2009 die jaar van Groot Dankbaarheid sal wees.
EDDIE BATEMAN
HOOF