Saturday, April 19, 2008

Talentaand Rock!

Nie eers 'n verwoestende brand kon die geesdrif en opwinding van die talent-aand demp nie!

KHS'ers kan sing, dans, musiek maak en grappe vertel! Dit was moeilik om te glo dat al die items van een skool se leerders afkomstig is. Die aand was stylvol met Johan Ferreira en Mej. KHS, Christine Prinsloo as aanbieders. Christine het almal met haar sjarme betower en bewys dat sy beslis meer as net 'n mooi gesiggie is!

Die KHS senior band, wat hulself "Skoolsaal" noem het die aand geopen. Die band bestaan uit Dries van Onselen (kitaar en sang), Jaco Joubert (viool, kitaar en sang), Handre Visagie (akoestiese kitaar en sang), Clarise Coetzee (akoestiese kitaar en sang), Kobus Dippenaar (klavier), Marwileen van Zyl (tromme) en Millena Markovic (sang).

Hierdie talentvolle leerders het die gehoor behoorlik aan hul voete gehad met hulle vertolkings. Hulle musiek strek van Ierse rock, ligte klassiek tot pop-rock.

Die KHS junior band het ook opgetree. Die band maak beslis musiek wat die jonger geslag se voete laat juk! Die lede is Jamie en Jandre Mitchell (kitaar en sang), Gary Ollewagen (tromme) en Louis Swanepoel (sang).

Dit was ook talentvolle sangers se kans om hul oudisies vir die X-factor kompetisie te doen. Hulle het beslis geskitterm gedans en natuurlik gesing! Stil leerders het behoorlik as divas ontpop! Die hele musiekspektrum is verteenwoordig, Afrikaanse musiek, Rock musiek, daar was iets vir almal se smaak. Die beoordelaars het beslis 'n moeilike taak gehad!

Japie Olivier het almal laat lê van die lag met sy weergawe van 'n storie van Tolla van der Merwe. Tussendeur het dansers die gehoor na hul asems laat snak. Die I-Dance dansskool het 'n lewendige vertoning gelewer. Sune Reynecke het gewys hoekom sy SA kleure in dans het en Carjolien Botha het 'n lewenige Hip-Hop vertoning gelewer.

Die gehoor het geklap, geskree en elke deelnemer is met luide applous aangemoedig, KHSers is 'n puik gehoor wat dit vir elke deelnemer die moeite werd maak om op die verhoog te staan.

Aan die einde van die aand het die plaaslike Klerksdorp band, 4Q, die gehoor verder op hul voete gehad. Hierdie is voorwaar 'n band wat dopgehou moet word en wat nog diep spore in die land se musiekbedryf gaan trap!

Uiteindelik was dit tyd om die finaliste van die X-factor bekend te maak. KHS sê baie geluk aan Ricky Tevan (gr 11). Ricky het 'n roerende vertolking gelewer van "Sally Willams Nougat". Die tweede finalis is Trudie Kritzinger (gr10). Trudie het die gehoor betower met haar vertolking van "Jeolousy". Sterkte, KHS staan agter julle!

Dit was 'n sielvolle aand wat almal se batterye gelaai het vir die kwartaal. Dit was 'n aand vir die leerders van die leerders. 'n Deel van die inkomste van die aand word geskenk vir die Seunskoshuis se brandfonds. Ons doen beroep op almal wat hierdie berig lees om iets te skenk vir die noodfonds,
(Rekeningnaam: Hoërskool Klerksdorp Seunskoshuis Hulpfonds
Rekeningnr: 407 139 8903
Takkode: 632 005
Tjekrekening,ABSA Bank)