Friday, April 18, 2008

KOSHUIS BRAND AF






OUDSTE SKOOLKOSHUIS BRAND AF

“Daar kan kwalik ‘n slegter ding met jou gebeur as om twee-uur in die oggend wakker gebel te word met die boodskap dat jou skool se koshuis afbrand – terwyl jy weet dat meer as honderd mense – die meeste kinders – almal rustig in hul beddens moet lê en slaap nie,” som Eddie Bateman, hoof van Hoërskool Klerksdorp, sy ontsteltenis op toe hy moes verneem dat die skool se seunskoshuis Dinsdagoggend aan die brand is.

Minute later het hy radeloos rondgehardloop om seker te maak almal is veilig en na “vermiste” personeel te soek wie se woonstel gesluit is en hulle nie gekontak kon word nie. Hy was al op pad om ‘n byl te gaal haal toe die vermistes opgespoor is. Intussen het die vlamme soos weerlig deur die stof op die ou balke gehardloop en is slegs gestuit deur die stukkie plat dak van die gangetjie wat die ou en nuwe vleuel van die koshuis van mekaar skei.

Die koshuis, Huis Piet de Villiers, is die oudste skoolkoshuis in die stad en is in 1938 gebou. Die inwoners vier vanjaar hul geliefde Pieta se sewentigste verjaardag. Die oorsaak van die brand, wat in die kombuis ontstaan het, word nog forensies ondersoek, maar dit is duidelik dat groot strukturele skade deur die brand aangerig is.

“Die skool is net innig dankbaar dat al die inwoners ongeskonde uit die vlamme ontsnap het en dat selfs nie eens van die personeel se troeteldiere seergekry het nie. Die skade is egter geweldig groot. Ten minste drie van die personeelwoonstelle is totaal verwoes, een daarvan dié van die skool se kunsonderwyser, Herman Harmzen, wat van sy beste werke in die vlamme moes sien opgaan saam met ‘n peperduur kamera en selfs sy tandeborsel. Hy, en ook van die ander personeel, het net oor wat aan hul lyf was. Ook talle van die kinders het alles verloor: skoolklere, sporttoerusting, rekenaars, skooltasse met boeke, beddegoed, alles,” sê Bateman. Die skool se Suid-Afrikaanse spiesgooikampioen Tazmin Brits se spiese waarmee sy die naweek aan die SA’s sou deelneem, het ook in die slag gebly.

Omdat beide die skool se koshuise van dieselfde kombuis gebruik maak, is die krisis dubbel so groot en het die KHS Beheerliggaam ‘n noodfonds gestig
(Rekeningnaam: Hoërskool Klerksdorp Seunskoshuis Hulpfonds
Rekeningnr: 407 139 8903
Takkode: 632 005
Tjekrekening.
ABSA Bank), want nie alleen moet die slagoffers gehelp word en in hul noodsaaklikste behoeftes voorsien word nie, maar die skool se twee koshuise moet steeds daagliks bedryf word terwyl die kwartaal se kosvoorraad en eetgerei in die slag gebly het. Dan sal daar so vinnig moontlik met ‘n herbou-proses begin moet word.

“Ons is oneindig dankbaar, eerstens teenoor ons Hemelse Vader wat sy Hand oor ons kinders en personeel gehou het en tweedens teenoor die gemeenskap wat help waar hulle kan, maar ons praat van miljoene rande se skade” sê mnr. Bateman.

Die brand is ontdek deur twee Polisielede wat toevallig die rook gesien het en ondersoek ingestel het. Met die polisiesirene van die patroliemotor het Kaptein Pieters en Konstabel Morgan die slapende koshuis van ‘n groot ramp gered. “Hulle is ons helde!”

‘n Span beraders het van Donderdag af leerlinge by die skool bygestaan om die trauma van die brand te verwerk.