Monday, October 22, 2007

'n Wenresep vir KHS matrieks!



KHS SE MATRIEKS KRY DIE REGTE RESEP!!

Die hoogste toekenning van die skool, KHS’er van die Jaar, is op Woensdagaand 3 Oktober by KHS se Prysuitdeling vir die Matrieks aan hoofmeisie Simoné Smith gemaak. Die dux-leerling van die jaar is Rialet Swanepoel, wat ook onderhoofmeisie en koshuishoofmeisie was.

Simoné was nie net hoofmeisie vir 2007 nie, maar dien al die afgelope vyf jaar op die Verteenwoordigende Leerlingraad. Sy was vanjaar ook kaptein van die skool se Atletiekspan, die Eerste Netbalspan en die Eerste Tennisspan. Sy het ook drie jaar diens gedoen as lid van die Junior Stadsraad. Erekleure vir Leierskap is ook by die geleentheid aan haar en hoofseun Petri Ackermann toegeken. Nog drie leerlinge het merietetoekennings vir Leierskap ontvang omdat hulle vanjaar drie leiersposisies beklee het. Hulle is Urén Whitehead, wat onder andere kaptein van die skool se Eerste Rugbyspan was, asook Maans Kotze en Esmerelda van Rensburg.

Die hoogtepunt van die aand was in baie opsigte die jaarlikse boodskap van die skoolhoof, mnr. Eddie Bateman, wat vir die matrieks op die verhoog gesondheidsmuffins gebak het en aan hulle bewys het dat die regte resep in die lewe noodsaaklik is as jy ‘n gebalanseerde en gesonde lewe wil lei. Min leerlinge sal vergeet dat die “slegte” karringmelk nodig is vir ‘n besonderse geur in die eindproduk – en ook dat ‘n mens jou nie so moet verknies oor die slegte in die lewe dat jy die groter prentjie, die eindproduk, uit die oog verloor nie.

Na die geleentheid het die gaste natuurlik heerlik weggelê aan gesondheidsmuffins!