Monday, November 5, 2007

TROMPOPPIE VERWERF PROVINSIALE KLEURE


Bianca Janse van Rensburg van Hoërskool Klerksdorp het haar Provinsiale Trompoppie kleure verwerf. Sy het op 27 Oktober 'n toekenning ontvang by die Noordwes Trompoppies se jaarlikse klereseremonie. Afrigter, me Careen Jansen van Vuuren het onlangs as Noordwes beoordeelaar gekwalifiseer toe sy haar "Novus" eksamen geslaag het.

Foto Bianca Janse van Rensburg en Careen Janse van Vuuren (afrigter)

SKRYFSTERS BY UITSTEK!




Terwyl sommiges woeker met hulle talent op die sportveld, woeker sommiges met hulle skryftalent.

Inge Snyman en Elizna Steyn van KHS het onderskeidelik skryfstukke en gedigte in Augustus ingestuur vir Memories SA waarin 'n mens 'n kans staan om jou stukke te kan publiseer. (Regs: Inge Snyman)


Met trots kan aangekondig word dat vier van Inge se stukke en 'n gedig van Elizna gepubliseer gaan word in Anthology of verse 2007, 'n unieke versamelaarsitem in leer gebind. (Regs: Elizna Steyn)

Sulke prestasie maak die woeker dit werd!

TAZMIN EN AFRIGTER NA "HIGH PERFORMANCE CENTRE"




Tazmin Britz, KHS se spiesgooi-sensasie en haar afrigter Willem Geyer het op uitnodiging van Atletiek Suid-Afrika 'n oefenkamp in Pretoria bygewoon by Tukkies se "High Performance Centre". Die kamp was van 8 tot 13 Oktober vir die land se Top Twintig jong atlete.



Tydens die week is die atlete aan Fiksheids- en gesondheidstoetse onderwerp om vas te stel of daar enige gebreke in hul mondering is wat reggestel kan word met die oog op toekomstige Olimpiese Spele.


NUWE KOSHUIS MATRONE



Mev. Karin Rossouw is aangestel as matrone by Hoërskool Klerksdorp. Sy was voorheen verbonde aan Hoërskool Wolmaransstad.

KHS-KRIEKET AKADEMIE 'N GROOT SUKSES



Die krieket akademie by Klerksdorp Hoërskool se aandliga finaal op 23 Oktober was 'n reuse sukses. Die "Coke Giants" het teen die "Powerade Warriors" gespeel. Die "Coke Giants" het met 7 paaltjies gewen.

Om meer kleur aan die aangeleentheid te gee het ABI 'n musiekwa daar gehad met 'n grootskerm en die toeskouers van die seuns-en meisieskoshuise met gratis koeldranke bederf. Mnr. Werner Faul direkteur van die akademie het die volgende opgemerk: "Die lewe is alles oor drome, en dat die beste daarvan gebeur wanneer jou oë oop is."

GOUD BY WETENSKAP-EXPO


Gedurende die vakansie, 28 en 29 September 2007, het twee leerlinge van KHS aan die Nasionale Wetenskap-Expo deelgeneem. Devan du Toit en Jan-Harm Steenkamp was deel van 465 leerling vanoor die hele Suid-Afrika wat deelgeneem het.

Jan-Harm Steenkamp verwerf ‘n goue medalje vir sy projek oor “Higiëne by die Wasbak” .

OUD-KHS’er ‘N TOP HOOF UITVOERENDE BESTUURDER

Jacques Faul, oud-KHS’er en stigterslid van die skool se suksesvolle Krieketakademie, is deur Wits bekroon as een van die top drie Hoof Uitvoerende Bestuurders in Super Sport se kursus vir Uitvoerende Sportbestuurders waaraan ‘n groep van 35 uitgesoekte sportbestuurders deelgeneem het.

Jacques is tans die Hoof Uitvoerende Bestuurder van Noordwes Krieket. Die ander twee sportbestuurders wat vereer is, is die Bestuurder van Gimanstiek Suid-Afrika en dié van Grens Rugby.

Die inisiatief vir dié program kom van Super Sport wat verlede jaar alle sportliggame uitgenooi het om hul sportbestuurders vir die kursus te nomineer. Hulle het daarop ‘n kursus van ses weke by Wits se Skool vir Sakebestuur bygewoon. Die doel van die kursus was om die sportbestuurders se kennis van finansiële en nie-finansiële aspekte van bestuur asook hul kennis van strategiese beplanning op te skerp.

KHS se Krieketakademie staan tans onder die beheer van Jacques se broer, Werner Faul.

VIOLIS ROZANNE BLINK UIT!


Rozanne Botha, matriekleerling van KHS is deur UNISA uitgenooi om deel te neem aan hul kompetisie vir 'n Musiekbeurs. Sy is die enigste violis in Suid-Afrika wat uitgenooi is.

Slegs musiekleerlinge wat Unisa se finale graad 8-eksamen slaag met 'n gemiddeld van minstens 85% word vir uitnodiging oorweeg.

Rozanne is ook drie afgelope 5 jaar violis in die Simfonia Juventi-orkes is ook die leier van die Noordwes Jeugorkes.

KHS MUSIEKAKADEMIE HOU KONSERT!


Entoesiastiese leerders van KHS Musiekakademie het weereens geskitter tydens die akademie se jaarlikse middagkonserte wat die 18de September in die Skoolsaal gehou is. Leerlinge het elkeen op hul eie instrument (blokfluit, viool, kitaar, klawerbord of klavier) gewys wat gedoen kan word! Elke leerder het ‘n diploma ontvang vir deelname. Die hoogtepunt van die opwindende konserte, is ongetwyfeld die gesellige kuier tussen leerder, ouers en musiekonderwysers.

Sunday, November 4, 2007

KHS SPEEL WEN KRIEKET!!


KHS se Eerste Span wen Wesvalia met 8 paaltjies op 8 September. Wesvalia kolf eerste slaan 108 in 40 beurte. Die boulers wat uitblink, is Fraser Duvenhage (3/13), Kallie Kruger (2/9), Jacques Pitts (2/8), C.J. Ferreira (2/26). KHS troef hulle binne 15 beurte met Ettiene Grobler 31 n.u.n. en Andreas Joubert 30 n.u.n. (Andreas, foto regs)

Die 0/15-krieketspan het ook teen Rustenburg gewen met 70 lopies. KHS kolf eerste en teken 223 lopies aan in 45 beurte (Jan Bosman Brink 64 n.un.). KHS haal Rustenburg uit vir 153 (beste bouler Peter Bornman 2 paaltjies vir 9 in 6 boulbeurte).

KHS SE O/15's BOBAAS IN KLERKSDORP!!

KHS se o/15's-krieketspan het met hul oorwinning op Woensdag 10 Oktober oor Hoërskool Bergsig deurgedring na die halfeind van die Noordwes kompetisie. Hulle speel in die halfeind teen Hoërskool Lichtenburg.

KHS het met Bergsig afgereken met 156 lopies. KHS het die loot gewen en eerste gekolf. KHS teken 270 lopies aan in 45 beurte. Die beste kolwer was Jan Bosman Brink met 84 van 63 balle. Juandré van Wyk (52) en Vernon Prinsloo (51) het ook goed gevaar met die kolf.

KHS boul Bergsig uit vir slegs 114 lopies in 35 beurte. Die beste boulers is Jan Bosman (3 paaltjies), Vernon (2) en Franco van Tonder (2).

KHS is die enigste span in die KOSH-gebied wat die halfeind van die Noordwes kompetisie haal.


KHS se 1A-span (super liga) het ook die halfeind gehaal asook die o/14 A's en die I-B-span is tans in die kwartfinaal.

(FOTO

1e Ry – Jaco Fouche, Jacques Moolman, Pieter Bornman, Jan Bosman Brink
2de Ry – Paul Viljoen, Ruan Pieterse, Ruan Greeff, Shermin Visser, Dawid Sebostian,
3de Ry – Franco van Tonder, Juandré van Wyk, Werner Faul (afrigter), Vervon Prinsloo, Bernard Jordaan.)

TWEE KHS-KRIEKETSPANNE IN NOORDWES FINAAL!

KHS se twee Superliga-spanne, die 1A-span, is die enigste twee hoërskole-krieketspanne om die KOSH-gebied in die finaal van die Noordwes kompetisie te verteenwoordig..

Die Eerste Span het Saterdag 13 Oktober teen Gimmies in die halfeind gespeel en hulle met 12 lopies geklop. KHS het eerste gekolf en 187 lopies aangeteken in 46 beurte. Die bestekolwers was Duane Bredenkamp wat 36 aangeteken het en Johandré Denner 32.

Gimmies het daarna gekolf en word uitgeboul vir 177. Boulers Andreas Joubert (2 paaltjies vir 42), Dirk van Staden (3 paaltjies vir 22) en Clifford Collard (2 vir 31) het die paaltjies met reëlmaat laat kantel.

Die 0/15's het – ook Saterdag 13 Oktober – 'n tuiswedstryd teen Lichtenburg gehad en die Liggies met 152 lopies gewen. KHS het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. KHS teken 249 lopies in die toegelate 50 beurte aan en verloor in die proses ses paaltjies, maar drie kolwers slaan elk 'n vyftigtal: Vernon Prinsloo, 66 lopies, Pieter Bornman 62 en Ruan Greeff 51.

In KHS se boulbeurt lewer Pieter Bornman weer 'n groot bydrae daartoe om Lichtenburg vir 97 lopies uit te haal. Pieter laat kantel naamlik 4 paaltjies en staan slegs 17 lopies af in sy 6 boulbeurte. Jan Bosman Brink is die ander bouler wat goed vaar deur twee paaltjies te neem vir 20 lopies.



NEGE KHS'ers IN NW SPANNE

Nege KHS'ers is gekies vir Noordwes krieketspanne wat in Desember aan verskillende toernooie deelneem.


Vir die 0/18-span is Andreas Joubert as kaptein gekies, Duane Bredenkamp as speler en Fraser Duvenhage as reserwe. Mnr. Gert de Beer KHS se adjunkhoof, is die spanbestuurder. Die span neem van 14 – 19 Desember deel aan die Kaya Majola Coca-Cola-week deel wat in Johannesburg plaasvind.(Foto: Fraser Duvenhage, Duane Bredenkamp, Gert de Beer (Spanbestuurder), Andreas Joubert)



KHS'ers in die 0/17 NW-span is Dirk van Staden en CJ Ferreira. Hulle speel van 7 tot 10 Desember in Kaapstad krieket vir hulle provinsie.


Vier KHS'ers is in die 0/15-span vir Noordwes. Jeandré van Wyk, Shermin Visser, Vernon Prinsloo en Jan Bosman Brink neem van 8 tot 12 Desember aan die PG Bison-week deel in Stellenbosch.
(FOTO: Vernon Prinsloo, Johandré Denner, Shermin Visser, Jan Bosman Brink)


REKORDS IN EERSTE ATLETIEKBYEENKOMS VAN DIE SEISOEN


Marietjie Nel, 0/15-atleet van KHS het Saterdag 13 Oktober tydens 'n byeenkoms by Gimmies haar eerste rekord van die seisoen opgestel toe sy die 300 meter Hekkies in 'n rekordtyd van 48 sek. gehardloop het.







Nog 'n KHS'er, Sonique Fourie, het in haar eerste 3000 meter m/19 so byna dieselfde gedoen toe sy slegs 4 sekondes buit die rekord in 11 min en 3 sek. die wedloop gewen het. Sonique, 'n graad 8-leerling, het nog nooit tevore dié afstand aangedurf nie.

Ander verdienstelike tye en afstande is aangeteken deur Marion-Ann Duvenhage (400m Hekkies m/17) met 'n wentyd van 66 sek. Felicia van der Merwe (m/17 800 meter) wat die nommer wen in 2 min. 41 sek. en Riaan Smit (s/17 800m) wat wen in 2 min. 07 sek. KHS se twee Koekemoers het ook hul opponente op die neus laat kyk toe hulle eerste en tweede in die 800m s/15 geëindig het, Marco in 2:11:10 en Renier in 2:12. Nog 'n verdienstelike uitslag is Sarel Prinsloo se 1,75m in die hoogspring s/15.

FIETSRYL: DIE EKSTRA MYL …




Twee KHS’ers, Chris de Jongh (graad 10) en William Roeloffze (gr. 11) het tydens die September-vakansieweek gewys dat hulle letterlik bereid is om die ekstra myl te ry vir ‘n vriend.

Hulle was naamlik deel van ‘n groep maats wat die lang pad per fiets Bloemfontein toe gevat het, ‘n hele 320 kilometer ver – om mense aan te moedig om organe te skenk nadat Trevor Gird, ‘n Wasvalia-maat, baie siek geword het en wag op ‘n hartoorplanting.

Die seuns het elke dag 80 km ver gery en oornag op Bothaville, Wesselsbron, Bultfontein en Bloemfontein. Hulle het op dié wyse ook geld ingesamel om hul vriend se mediese koste te help dek.

KHS'ers PRESTEER BUITE SKOOLVERBAND

KHS GIMNAS NA MOSKOU


Elandi Styger van Hoërskool Klerksdorp blink vanjaar uit in gimnastiek. Sy behaal ‘n algehele eerste plek by die Noordwes kampioenskappe en word opgeneem in die span na die Suid-Afrikaanse Spele vanaf 25 September in Bloemfontein.

Sy gaan ook op 3 – 6 Oktober aan die SA Kampioenskappe in Centurion deelneem en vertrek in Desember na Rusland waar sy van 6 – 20 Desember as lid van die SA Span in Moskou internasionaal deelneem.



DANSER PRESTEER


KHS'er Carjolien Botha (graad 10) is pas (September) gekroon as afdelingwenner by die Nasionale Eisteddfod in Krugersdorp.

Carjolien is bekroon in die kategorie Dans waar sy die solo-afdeling (vrye beweging) gewen het. Sy is ook wenner in die trio-nommer vir Hip-hop waar sy 'n sertifikaat ontvang.

Sy ontvang ook die goue medalje vir die beste prestasie in Dans in die senior afdeling.

Monday, October 22, 2007

TOP TIEN KHS'ers 3e kwartaal

KHS se Top Tien akademiese presteerders vir die derde kwartaal is pas aangewys. Die vier dux-leerlinge vir die verskillende grade is Alricia Botha (96,3%) in gr. 8, Trudie Kritzinger en Annemie van Wyk (95,0%) in graad 9, Chané Verhoeven (96,4%) in graad 10 en Pieter-Jan Pienaar (89,4%) in graad 11.



DUX LEERLINGE
Alricia Botha, Annemie van Wyk, Trudie Kritzinger, Chané Verhoeven, Pieter-Jan Pienaar


Die ander graad 8's is Elandi Styger (2), Shirene Pretorius (3), Sonique Fourie (4), Heilette Claassens (5), Rizaan Olivier (6), Mariska Wepener (7), Riaan van der Merwe (8), Herman Smith (9) en Alita Steyn (10).



GRAAD 8-LEERLINGE
Voor: Elandi Styger, Rizaan Olivier, Alita Steyn, Herman Smith, Heilette Claassens, Sonique Fourie
Agter: Alricia Botha, Mariska Wepener, Riaan van der Merwe en Shirene Pretorius

Die graad 9's is Ida Linde (3), Esmé van Vuren (4), Shelaine Botha (5), Franziska van der Hoff (6), Jacobus Kritzinger (7), Chizelle Steyn en Willie Marais (8) en Jeandré van Wyk (10). Soos die graad 8's, is al die graad 9's se gemiddeld bo 90%.


GRAAD 9-LEERLINGE
Heel voor: Shelaine Botha
Voor: Trudie Kritzinger, Ida Linde, Esmé Jansen van Vuren, Chizelle Steyn, Jacobus Kritzinger
Agter: Annemie van Wyk, Fransisca van der Hoff, Jeandré van Wyk

By die graad 10's is die ander nege Eldie Oosthuizen (2), Katinka Steyn (3), Jannes Venter (4), Coenraad Claassens (5), Jean Gouvea (6), SJ Niemand (7), Anika van der Linde (8), Melandie Scholtz (9) en Kylee O'Reily (10).


GRAAD 10-LEERLINGE
Voor: Jannes Venter, Melandie Scholtz, Katinka Steyn, Kylee O'Reilly, Eldie Oosthuizen, Coenraad Claassens
Agter: Anika van der Linde, Charné Verhoefen, SJ Niemand, Jean Gouvea

Die graad 11's is Karien en Elizna Steyn (2), Jaco Jouber (4), Johan Ferreira en Maizelle Moolman (5), Retha Peach (7), Lené van Rooyen (8), Inge Snyman (9) en Stiena Hoffmann (10).



GRAAD 11-LEERLINGE
Voor: Marizelle Moolman, Lené van Rooyen, Stiena Hoffmann, Karien Steyn, Inge Snyman
Agter: Retha Peach, Elizna Steyn, Jaco Joubert, Johan Ferreira, Pieter-Jan Pienaar


KHS se Top Tieners onderneem vanaf Maandag 20 Oktober 'n toer waar hulle onder andere Maropeng besoek.

KHS MUSIEKAKADEMIE HOU KONSERT!

Entoesiastiese leerders van KHS Musiekakademie het weereens geskitter tydens die akademie se jaarlikse middagkonserte wat die 18de September in die Skoolsaal gehou is. Leerlinge het elkeen op hul eie instrument (blokfluit, viool, kitaar, klawerbord of klavier) gewys wat gedoen kan word! Elke leerder het ‘n diploma ontvang vir deelname. Die hoogtepunt van die opwindende konserte, is ongetwyfeld die gesellige kuier tussen leerder, ouers en musiekonderwysers

ENGELSMAN WORD KHS’er!



So reg uit die hartjie van Engeland Northamptonshire om presies te wee, kom die man wat die afgelope week of wat ‘n KHS-hempie dra.

Bradley Kruger se van mag Afrikaans klink, maar hierdie man se Afrikaans strek nie veel verder as “Ag nee, man!” nie.

Bradley help tans by KHS met krieketafrigting. Hy is een van elf professionele spellers wat ‘n kontrak van Noordwes Krieket gekry het om hier by ‘n klub te kom speel en by skole met afrigting te help.

Bradley is die afgelope 3 jaar betrokke by die Northamtonshire County Cricket Acadamy waar hy as ‘n ware veelsydige speler op nommer 4-7 kolf en gewoonlik die eerste bouler is (sy beste prestasie was tydens ‘n toer na Skotland waar hy ses paaltjies geneem het vir 20 lopies en as kolwer teen Derbyshire toe hy ‘n indrukwekkende 172 gemoker het). Hy aspireer dan ook om eendag sy land op die krieketveld te verteenwoordig.

Bradley se sportbelangstelling sluit ook rugby in waar hy vir sy skool se eerste span gespeel het.

Hy sal vir ses maande by KHS help met afrigting.

VYFDE REKENAARSENTRUM VIR KHS!!

KHS het pas ''n vyfde rekenaarsentrum ingerig, dié een vir die vak Ingenieursgrafika.

Met dié 24 rekenaars – dit sal uiteindelik uitgebrei word tot 36 – sal die leerlinge die Turbo CAT-program gebruik. Daarmee kan hulle twee- en driedimensionele tekeninge maak.

Die leerlinge is baie opgewonde oor die vooruitsig om ''n deel van hul sillabus op rekenaar af te handel en is reeds besig om hulself ten opsigte van sekere fasette te oriënteer.

Mnr. Dirk Burger, KHS se Ingenieursgrafika-onderwyser, is reeds deeglik onderlê in die program en sien uit na die nuwe bedeling.



Voor: Edmund Petersen en Pietie Joubert
Agter: Marius van Niekerk, Bernard Esterhuizen Mnr. Dirk Burger en Jaco Joubert.


Edmund Petersen en Pietie Joubert


Coenraad Claassens, Arno Vosloo en mnr. Dirk Burger

KHS SE VERONIQUE MEJ TIENER AFRIKA!



Veronique Pottas, ‘n graad 9-leerder aan hoërskool Klerksdorp is op 27 September in Midrand gekroon as “Miss Teen Africa”.

Altesaam 22 skoonhede van oral oor Afrika het aan die finale rondte van die kompetisie deelgeneem waar Veronique gekroon is. Sy is ook as beste model by die kompetisie aangewys. ( Veronique is ‘n student van V-Models.)

Met dié kroon op haar fraai koppie dring Veronique ook deur na die internasionele “Miss Teen Queen of the Universe”-kompetisie wat in 2008 plaasvind.

WÊRELDBEKER KOORS LOOP HOOG BY KHS!!!









KHS se bloed is gewoonlik blou, maar net soos in die res van die land, was KHS se bloed verlede week groen en het daar groot opgewondenheid oor die wêreldbeker geheers. Christine Prinsloo, mej. KHS saam met 'n paar rugbyspelers.
Voor: Nadine Meiring, Melishé Becker, Rizaan Olivier.
Middel: Wimpie Lambrecht
Agter: Deon van Onselen, Theuns de Villiers, Reno Campher, Christine Prinsloo (Mej. KHS), Chizelle Steyn.






Tazmin Brits (Engelsman) het gevoel sy moet Engeland verteenwoordig en sy doen dit behoorlik deur die toonnaels ook te verf.

Hoogste toekennings vir KHS matrieks 2007


Rialet Swanepoel is nie net KHS se dux-leerling nie, maar ontvang ook die Diligenter-toekenning.


Petri Ackermann, hoofseun 2007 ontvang die Diligentertoekenning vir gesindheid.


KHS'er van die JAAR – Simoné Smith, hoofmeisie, ontvang die toekenning vir haar bydrae op akademiese, sport- en kultuurgebied asook leierskap.


Zander Deetlefs ontvang 'n handdruk van mnr Bateman omdat hy die afgelope 12 jaar nooit 'n skooldag misgeloop het nie.


Temara Pottas ontvang trofee vir die beste prestasie in Wiskunde SG, Natuur- en Skeikunde SG en Bedryfsekonomie HG, Temara is ook op KHS se Top Tien.


Mnr Bateman en KHS se hoofleiers van 2007. Simoné Smith en Petri Ackermann het albei Erekleure vir Leierskap ontvang asook 'n unieke trofee elk gemaak deur mnr. Gert Venter.


Rozanne Botha, hier by KHS se akademiese Prysuitdeling, waar sy die trofee ontvang het vir die beste prestasie in Musiek HG.


Simoné Smith ontvang die trofee vir Dienslewering (Meisies).


Duane Bredenkamp word met 'n trofee vereer vir Dienslewering.



Rialet Swanepoel is KHS se dux-leerling vir 2007. Hier ontvang sy die trofee van die hoof. Sy ontvang ook die trofee vir die beste prestasie in Wiskunde HG en Biologie HG.



Hoofmeisie Simoné Smith ontvang trofee vir die beste prestasie in Afrikaans HG, Rekeninkunde HG en Rekenaartik. sy ontvang erekleure vir akademie en leierskap.



Inamari du Preez is 'n regte boerenooi! Sy stof al die seuns uit as beste presteerde in Landbouwetenskap HG en is ook die beste presteerder in Natuur- en Skeikunde HG.














'n Wenresep vir KHS matrieks!



KHS SE MATRIEKS KRY DIE REGTE RESEP!!

Die hoogste toekenning van die skool, KHS’er van die Jaar, is op Woensdagaand 3 Oktober by KHS se Prysuitdeling vir die Matrieks aan hoofmeisie Simoné Smith gemaak. Die dux-leerling van die jaar is Rialet Swanepoel, wat ook onderhoofmeisie en koshuishoofmeisie was.

Simoné was nie net hoofmeisie vir 2007 nie, maar dien al die afgelope vyf jaar op die Verteenwoordigende Leerlingraad. Sy was vanjaar ook kaptein van die skool se Atletiekspan, die Eerste Netbalspan en die Eerste Tennisspan. Sy het ook drie jaar diens gedoen as lid van die Junior Stadsraad. Erekleure vir Leierskap is ook by die geleentheid aan haar en hoofseun Petri Ackermann toegeken. Nog drie leerlinge het merietetoekennings vir Leierskap ontvang omdat hulle vanjaar drie leiersposisies beklee het. Hulle is Urén Whitehead, wat onder andere kaptein van die skool se Eerste Rugbyspan was, asook Maans Kotze en Esmerelda van Rensburg.

Die hoogtepunt van die aand was in baie opsigte die jaarlikse boodskap van die skoolhoof, mnr. Eddie Bateman, wat vir die matrieks op die verhoog gesondheidsmuffins gebak het en aan hulle bewys het dat die regte resep in die lewe noodsaaklik is as jy ‘n gebalanseerde en gesonde lewe wil lei. Min leerlinge sal vergeet dat die “slegte” karringmelk nodig is vir ‘n besonderse geur in die eindproduk – en ook dat ‘n mens jou nie so moet verknies oor die slegte in die lewe dat jy die groter prentjie, die eindproduk, uit die oog verloor nie.

Na die geleentheid het die gaste natuurlik heerlik weggelê aan gesondheidsmuffins!

Mej KHS

Klerksdorp Hoërskool het op Woensdag 17 Oktober hulle jaarlikse Mej. KHS gehou. Die tema was Pirates and Princesses. Dit was 'n baie mooi aand en almal het dit baie geniet. Die mooiste prinses wat aangewys is as mej. KHS, is Christine Prinsloo. Die Eerste Prinses is Cayleen Lock en Tweede Prinses Suzel Pretorius. Mej. Persoonlikheid is niemand anders as die gewilde hoofmeisie Elizna Steyn nie en mej. Fotogenies is Darnét Prinsloo. Die eerste prys – 'n matriekafskeidsrok – is geborg deur Jean Nalida Collections.


Christine Prinsloo – Mej KHS


Elizna Steyn (mej Persoonlikheid), Suzelle Pretorius (2de prinses), Christine Prinsloo (Mej. KHS), en Cayleen Lock (1ste prinses) en Darnet Prinsloo (mej Fotogenies) en die hoof mnr. Eddie Bateman heel agter.


Suzelle Pretorius (2de prinses), Christine Prinsloo (Mej. KHS), Hoof (mnr. Eddie Bateman) en Cayleen Lock (1ste prinses)

Sunday, September 16, 2007

KHS se eie leeskliniek!

HET JY GEWEET... dat daar op universiteit van studente 'n leesspoed van 350-400 woorde per minuut (wpm) verwag word? Studente wat stadiger as dit lees, raak agter met hul werk en moet baie meer tyd aan studie bestee-waardevolle tyd wat vir "Social" gebruik kan word.

HET JY GEWEET... dat jy baie beter in AL JOU VAKKE sal vaar op skool wanneer jou leesspoed verbeter?

Dankie tog vir oopkop-mense met visie!
Dis nou KHS se hoof en begeerliggaam. Met Stimulus Maksima se innoverende 'Reading Rocket' leesprogram leer KHS'ers op 'n prettige manier om vinniger te lees.

Algemene kennis verbeter, woordeskat word uitgebrei en oë word selfs geoefen om vinniger te beweeg en meer letters op een slag raak te sien!

Baie dankie vir KHS se omgee-beleid! Ons sien met verwagting uit om te hoor van die hoë hoogtes wat ons leerlinge nog gaan bereik!

Wetenskapmiddag

Het jy dit bygewoon? Dit was pret!! Ons het stroombane gebou skuim en slym gemaak en KOFFIE GEBRAND. As jy dit gemis het, kry ons jou baie jammer en daarom belowe ons om tydens die opedag se verrigtinge die aand, in die saal, weer koffie te brand en ons sal vir jou die resep vir die slym gee.

VCSV by ons skool

"Goeie more, KHS. Dit is Woensdag vandag, daar is tweede pouse CSV in die saal. Almal is welkom!" Daardie afkondiging is al amper tradisie in KHS. Woensdag vir Woensdag word dit afgekondig en dieselfde groepie ongeveer sewentig daag op.
Vir my is CSV 'n great geleentheid om tyd saam met God te spandeer, om weg te breek van skoolstres.

Om God te leer ken en Sy Naam groot te maak. Ons gesels oor alledaagse dingetjies, oor geloof, vergifnis...

Ons het ook Dinsdagaand tussen ses en sewe uur begin met byeenkoms. Alhoewel ons 'n baie klein groepie van ongeveer tien is, doen God regtig groot dinge. Hy vat seer weg, genees, herstel verhoudinge. Hy bly net altyd getrou.

CSV is 'n tyd om van God te hoor en om oor Hom te getuig. Om te getuig oor watter wonderlike dinge Hy in jou lewe gedoen het en nog steeds doen. Al wat ek kan sê, is: God is awesome!

Woon julle dit by of kyk julle dit verby?
Is jou verhouding reg met die Here?

As jy jou verhouding met God wil regkry, woon Woensdae se VCSV by!

Brief van KHS se hoof

Miskien het jy al hierdie verhaaltjie gehoor, maar ek deel dit graag weer met jou waar jy op die punt staan om die wye wêreld aan te durf. Dit is die storie van die blinde man wat voor 'n gebou sit met 'n blikkie en 'n plakkaat wat lui: "Ek is blind. Help asseblief". Hy sit al vir 3 dae daar en het slegs enkele muntstukke in sy blikkie. Dan stap 'n suksesvolle sakeman verby. Hy steek vas en soek in sy sakke vir 'n geldjie om by die enkele munte in die blikkie te gooi, maar het nie sy beursie by hom nie. Hy haal egter sy pen uit, neem die plakkaat en skryf agterop. Dan plaas hy dit weer met die nuwe boodskap op voor die blinde man.

Op pad huis toe stap hy later die middag weer by die blinde man verby sie se blikkie nou tot oorlopens toe vol note en munte is. Toe hy die blinde groet, herken hy sy stem en vra onmiddellik wat die sakeman op sy plakkaat geskryf het. "Niks is geskryf wat nie waar is nie-dis net uit 'n ander hoek benader," antwoord die sakeman.

Op die plakkaat het nou gestaan: "Vandag is dit lente en ek kan dit nie sien nie". Soms gaan dinge dalk nie vir jou reg loop nie en dan moet jy jou strategie verander. Partykeer is sukses binne jou bereik as jy net 'n bietjie anders dink. Onthou, as jy nie met die eerste probeerslag geslaag het nie, is dit wonderlik as jy weer probeer, maar as jy dit op dieselfde wyse oordoen, gaan die resultate mos dieselfde wees as die eerste keer!

Hier by KHS is dit ons strewe om vir jou so 'n ingesteldheid te kweek, want dan leer jy die hoe en die weerom van die lewe! Ons bede vir jou is dat jy altyd die insig en moed sal hê om 'n nuwe wêreld met nuwe probleme op 'n unieke wyse aan te pak en sukses sal behaal.

KHS-groete,
E.J. BATEMAN-HOOF

Opedag 19 September 2007




Kyk net hoeveel pret het hierdie gr 7's gehad met die opedag! Na die tyd en 'n lekker aandete het al die ouers en leerders in die saal bymekaar gekom om hierdie opwindende lewe by KHS verder te bespreek. Wat 'n belewenis!