Monday, November 5, 2007

OUD-KHS’er ‘N TOP HOOF UITVOERENDE BESTUURDER

Jacques Faul, oud-KHS’er en stigterslid van die skool se suksesvolle Krieketakademie, is deur Wits bekroon as een van die top drie Hoof Uitvoerende Bestuurders in Super Sport se kursus vir Uitvoerende Sportbestuurders waaraan ‘n groep van 35 uitgesoekte sportbestuurders deelgeneem het.

Jacques is tans die Hoof Uitvoerende Bestuurder van Noordwes Krieket. Die ander twee sportbestuurders wat vereer is, is die Bestuurder van Gimanstiek Suid-Afrika en dié van Grens Rugby.

Die inisiatief vir dié program kom van Super Sport wat verlede jaar alle sportliggame uitgenooi het om hul sportbestuurders vir die kursus te nomineer. Hulle het daarop ‘n kursus van ses weke by Wits se Skool vir Sakebestuur bygewoon. Die doel van die kursus was om die sportbestuurders se kennis van finansiële en nie-finansiële aspekte van bestuur asook hul kennis van strategiese beplanning op te skerp.

KHS se Krieketakademie staan tans onder die beheer van Jacques se broer, Werner Faul.