Miskien het jy al hierdie verhaaltjie gehoor, maar ek deel dit graag weer met jou waar jy op die punt staan om die wye wêreld aan te durf. Dit is die storie van die blinde man wat voor 'n gebou sit met 'n blikkie en 'n plakkaat wat lui: "Ek is blind. Help asseblief". Hy sit al vir 3 dae daar en het slegs enkele muntstukke in sy blikkie. Dan stap 'n suksesvolle sakeman verby. Hy steek vas en soek in sy sakke vir 'n geldjie om by die enkele munte in die blikkie te gooi, maar het nie sy beursie by hom nie. Hy haal egter sy pen uit, neem die plakkaat en skryf agterop. Dan plaas hy dit weer met die nuwe boodskap op voor die blinde man.
Op pad huis toe stap hy later die middag weer by die blinde man verby sie se blikkie nou tot oorlopens toe vol note en munte is. Toe hy die blinde groet, herken hy sy stem en vra onmiddellik wat die sakeman op sy plakkaat geskryf het. "Niks is geskryf wat nie waar is nie-dis net uit 'n ander hoek benader," antwoord die sakeman.
Op die plakkaat het nou gestaan: "Vandag is dit lente en ek kan dit nie sien nie". Soms gaan dinge dalk nie vir jou reg loop nie en dan moet jy jou strategie verander. Partykeer is sukses binne jou bereik as jy net 'n bietjie anders dink. Onthou, as jy nie met die eerste probeerslag geslaag het nie, is dit wonderlik as jy weer probeer, maar as jy dit op dieselfde wyse oordoen, gaan die resultate mos dieselfde wees as die eerste keer!
Hier by KHS is dit ons strewe om vir jou so 'n ingesteldheid te kweek, want dan leer jy die hoe en die weerom van die lewe! Ons bede vir jou is dat jy altyd die insig en moed sal hê om 'n nuwe wêreld met nuwe probleme op 'n unieke wyse aan te pak en sukses sal behaal.
KHS-groete,
E.J. BATEMAN-HOOF